Insight
July 28, 2026

Die Konstitusionele Hof (KH) het onlangs beslis dat subartikels van klousule 12D van die voorgestelde Wetsontwerp neerkom op 'n arbitrêre ontneming van eiendomsreg is en is daarom ongrondwetlik verklaar. Die KH het sy bevindinge beperk tot die President se voorbehoude rakende slegs sekere klousules en het gevolglik nie die hele Wetsontwerp ongrondwetlik verklaar nie.
Die Parlement se eerste en mees voor-die-hand-liggende opsie om die saak reg te stel is 'n minimalistiese benadering, waar slegs hierdie klousules gewysig word om aan die Grondwet se Handves van Regte te voldoen, waarna die wetsontwerp vir ondertekening na die President terugverwys sal word. Dit sal egter 'n hartseer dag wees vir die wyse outeurs van die Berne Konvensie, wat so hard vir die regte van outeurs en kreatiewe kunstenaars geveg het. Die Berne Konvensie het immers die toets van die tyd deurstaan, selfs in die digitale era waarin ons leef.
Die Parlement behoort eerder van voor af te begin en 'n proses te loods om die Wet op Outeursreg te moderniseer. Oorwegings kan onder meer die volgende insluit: om die ondeurdagte invoering van die buitelandse beginsel van "fair use” uit te laat; die bestuur van invorderingsorganisasies te hersien, en om voorsiening te maak vir generatiewe kunsmatige intelligensie (KI) in die Wet op Outeursreg. Daar is ook steeds 'n behoefte om die beginsels van "billike hantering" met betrekking tot handboeke te verduidelik.
Billike Gebruik (“fair use”) v Billike Hantering van Kopiereg
Die Konstitusionele Hof wys tereg daarop dat "Fair Use" – 'n konsep wat hoofsaaklik in die VSA gebruik word – 'n gevestigde beginsel is wat aan die vereistes van die Bern Konvensie se driestaptoets voldoen. Die Hof het egter versuim om aandag te vestig op die ware redes waarom die regspraak oor "Fair Use" soveel beter ontwikkel is as dié oor Billike Hantering. Suid-Afrika se oorbelaste hofstelsel kan eenvoudig nie met dié van die VSA meeding nie, en die litigeerbare aard van "Fair Use" sal waarskynlik tot meer frustrasie vir outeurs lei as die huidige stand van sake.
Outeursreg-invorderingsorganisasies
Carte Blanche en ander ondersoekende joernaliste het ons aandag gevestig op verskeie ondersoeke en skandale waarin hierdie organisasies na bewering outeurs en kreatiewe kunstenaars van tantième ontneem het. Die wetgewing bestaan reeds. Wysigings aan die Wet op Outeursreg behoort dus te fokus op die gebruik van digitale nakomingshulpmiddels (tegnologiese beskermingsmaatreëls en goeie korporatiewe bestuur), gepaardgaande met swaar strawwe indien ampsdraers skuldig bevind word daaraan dat hulle outeurstantième onregmatig toegeëien het.
Kunsmatige Intelligensie
Die beginsels rakende kopiereg het sedert die tyd van die Gutenberg-pers (1440), die digitaledrukker (1977) en meer onlangs, generatiewe KI – onveranderd gebly. Die vermoë om kopieë van kopieregbeskermde inhoud te maak wat inbreuk op regte maak, het bloot vinniger versprei. Statiese wetgewing sal nie hierdie uitdaging oplos nie. Dit is eerder raadsaam om in regulasies voorsiening te maak vir die gebruik van digitale beskermingsmaatreëls tesame met modelle vir die intydse verspreiding van tantième. iTunes het reeds die regte benadering gevolg: omhels tegnologie, eerder as om dit te reguleer.
Handboeke
Oorweeg die volgende voorbeeld. Wanneer 'n student 'n handboek kopieer, wil sy toegang tot die inhoud hê – hetsy in digitale of analoogformaat. Sy wil nie eitnlik die stuk papier hê nie.
'n A4-vel kos ongeveer 5 sent. Die "klikfooi" vir 'n swart-wit kopie op 'n fotostaatmasjien is ongeveer 25 sent. 'n Kopieer- en drukwinkel vra ongeveer R1,50 vir 'n enkele kopie, waarmee hulle ook die winkelhuur, die huur van die fotostaatmasjien, arbeid, indirekte koste en 'n winsmarge verhaal. Indien die kopie by 'n universiteitsbiblioteek gemaak word, sal 'n fooi aan 'n invorderingsorganisasie tipies 5 tot 10 sent per kopie beloop, waarvan die organisasie 20% behou. Wat hierdie 10 sent betref, sal die outeur en uitgewer 'n ooreenkoms vir die verdeling van voordele hê – kom ons neem aan dit is 'n tantième van 15%. Hierdie voorbeeld illustreer dat die outeur (die skepper van die inhoud) tipies slegs 1,5 sent sal ontvang uit die R1,50 wat vir 'n finale kopie by 'n kopieerwinkel betaal word. Dit is dus nie verbasend nie dat die Konstitusionele Hof Artikel 12D oor handboeke as 'n ongrondwetlike skending van eiendomsreg soos vervat in artikel 25, beskou het.
Outeurs en kreatiewe kunstenaars moet beskerm word terwyl hulle inhoud skep, en wysigings aan die Wet op Outeursreg behoort daarop gemik te wees om tegnologiese maatreëls hiervoor te gebruik, eerder as regsprosesse wat op die beginsel van "billike gebruik" (fair use) gebaseer is.
