Insight
June 17, 2026
Hoe werk generiese middels en patente?
Ozempic was onlangs saam met BBL en ander politiese eienaardighede in die nuus. Ozempic se eienaar, Novo Nordik en iDexis, ‘n vervaardiger van generiese middels, het mekaar vandag vir kommersiële redes in die hof gepak. Dit laat die vraag ontstaan hoe generiese middels en patente regtig werk?
Ozempic is die kommersiële naam vir ʼn sintetiese glukagon-agtige peptied-1 (GLP-1) wat ʼn hormoon in ons liggame se verteringstelsel naboots. Die hormoon aktiveer die pankreas om insulien vry te stel indien iemand se bloedsuiker te laag is.
Die patent se oorspronklike oogmerk was om pasiënte met diabetes-2 te behandel. Die Amerikaanse reguleerder, die FDA het die middel eers in 2017 goedgekeur, waarna kommersiële gebruik van die middel kon begin - dus 10 jaar nadat die patent oorspronklik geregistreer is. Die patent het intussen vroeër vanjaar in verskillende lande verval, wat beteken dat generiese middels eersdaags op die mark sal wees. Ja, daardie GLP-1 wat by haarsalonne en selfs skoolgimnasiums te koop aangebied word is bes moontlik reeds generiese middels wat nog nie wettig beskikbaar gestel kon word nie.
Diabetes-2 kom onder ongeveer een uit elf mense voor (11%), wat die mark vir GLP-1 natuurlik enorm maak. Daarteenoor is vetsugtige mense in Suid Afrika amper 30% (28.3%) van die bevolking. Ozempic se oorspronklike mark het dus verdriedubbeld weens die produk se onbedoelde toepassing as verslankingsmiddel. Intussen het ander farmaseutiese maatskappye natuurlik nie stilgesit nie en tans vervaardig maatskappye soos Eli Lilly reeds soortgelyke aktiewe bestanddele.
Dis hier waar die patentewêreld leeuwêreld word. Novo Nordisk, Ozempic se eienaar, het die sogenaamde patent-afgrond lank reeds sien kom (ʼn patent-afgrond is wanneer die patent verval en konkurrente generiese ekwivalente mag begin verkoop). Ander farmaseutiese maatskappye het natuurlik ook pyle in hul koker. Eli Lilly se pyl was ʼn alternatiewe aktiewe middel, wat ook gepatenteer is.
Die vraag vir patente-eienaars ontstaan nou, naamlik “hoe kies konkurrente hul beste pyle, wat is die beste doepa om op die pyle te smeer, en wanneer is die beste tyd om die pyle te lanseer?” Die aanwending van die pyle in jou koker is natuurlik dan die handelsgeheim, of strategie.
Patente begin natuurlik met ʼn probleem. In hierdie geval is die probleem vetsug. Die markgeleentheid is dat niemand minder gaan eet vir solank as wat daar Karoo lamtjoppies verkoop word nie. ʼn Skaaptjop en Ozempic gaan dus dus boud aan boud en niemand sal durf waag om tussen daardie cholesterolboude vet te smeer nie. En dis waar die probleem ʼn sakegeleentheid word wat net ontsluit kan word met ʼn goeie handelsmerk. Ja, konkurrente kan die molekuul sintetiseer nadat die patent verval het en onder ʼn ander handelsmerk bemark, maar verbruikersvertroue bly altyd ononderhandelbaar. Generiese GLP-1, soos iDEXIS se middel, moet dus steeds SAHPRA goedkeuring kry en deur geakkrediteerde farmaseutiese vervaardigingsfasiliteite vervaardig en versprei word. Dit geld veral vir middels wat met ʼn spuitnaand toegedien word, want die middel is dan direk in jou bloedstroom en jou liggaam het dan nie, soos met ʼn tablet, ʼn billike reaksietyd om die middel te verwerp nie. Verantwoordelike mediese praktisyns sal dus nooit afwyk van beste praktyk nie, altans nie totdat mediese fondse die generiese alternatiewe onderskryf nie. Dit mag jare duur en in die tussentyd sal Ozempic se handelsmerk net sterker word. Trouens, die hofsaak wat tans in ons howe uitspeel gee Ozempic ʼn beduidende voorsprong en ʼn geleentheid om hul handelsmerk gratis te bemark.
