Insight

May 7, 2026

Het jy al ooit gewonder wie betaal vir wie wanneer persoonlike regte, handelsmerke en kopiereg in ʼn film so vervleg raak dat geen mens meer weet wat aangaan nie. The Devil wears PRADA is ʼn goeie voorbeeld vir diegene wat meer te wete wil kom oor intellektuele eiendomsregte (IE). IE word meestal met patente geassosieer, maar daar is baie meer vorme  van IE as net patente.

Laat ons met Meryl Streep begin. Anders as vele ander akteurs, besit sy geen leefstyl-, mode- of kosmetiese produkreekse nie. In plaas daarvan het sy ʼn reputasie gebou as wêreldklas aktrise, asook vir haar elegansie en integriteit. Waarom sal sy haar dan met die duiwel bemoei. In kopiereg bestaan daar iets soos morele regte, wat net deur individue toegeëien kan word. Meryl het ʼn berekende besluit geneem dat die film se titel, saamgelees met PRADA, haar elegansie en integriteit juis sou onderskryf, natuurlik met gepaardgaande vergoeding. Akteurs verdien ʼn eenmalige bedrag en daarna ʼn tantième vir elke vertoning van die film, hetsy op die grootskerm of op TV.

PRADA is waarskynlik die wenner in sover dit finansiële voordele betref. Die reikwydte van ʼn handelmerk wat nie net in die titel van die film verewig is nie, maar ook deur kykers wêreldwyd gesien word, is byna onmoontlik om te kwantifiseer. PRADA betaal natuurlik hiervoor (net soos wat die motorvervaardigers oor hul voete val om Meneer Bond, James Bond se sportkar te wees). Die film kon net sowel The Devil wears POLO gewees het, maar dis juis hier waar die titel so slim is – drie sterk handelmerke (ja, dis die duiwel, Meryl en PRADA) wat simbioties saamspeel om waarde te ontsluit.

Aline Brosh McKenna is die draaiboekskrywer van die film. Maar hier is ʼn vangplek. Sy het die draaiboek aangepas vanaf die oorspronklike roman waarvan Lauren Weisberger die skrywer was en dus die outeursregte besit. Daar bestaan nege kopieregklasse, wat as neweregte bekend staan. Weisberger sou bes moontlik net die kopiereg in die boek aan die uitgewer oorgedra het en neweregte teruggehou het. Dit is ʼn belangrike punt, want skrywers se boeke word gereeld deur draaiboekskrywers oorgeskryf vir filmdoeleindes. Insgelyks word digters, soos Ingrid Jonker se gedigte gereeld deur liriekskrywers in liedjies omgetower. Outeurs moet deurgaans hierop bedag wees – voor jy jou oë uitvee raak jou gedig ʼn temalied in ʼn fliek en indien jy jou neweregte aan ʼn uitgewer oorgedra het, gaan die uitgewer, en nie jy nie, geld maak.

Die klankbaan van ʼn fliek is bes moontlik die mees komplekse vorm van kopiereg. Meestal word bekende sangers gevra om ʼn klankbaan en temalied te skryf. Liedjieskrywers word net soos akteurs vergoed en die klankbaan word volgens die Kopieregwet deel van die filmregte. Temaliede word meestal in eie reg bekende liedjies en ʼn ervare liedjieskrywer sou daardie neweregte uitgesluit het van die filmregte. Wat minder algemeen bekend is, is dat indien daardie liedjie dan by ʼn rugbystadion, of in ʼn kroeg gespeel word, die eienaar die speellys aan SAMRO moet oorhandig en dan ʼn tantième betaal. Selfs DJs by troues moet dit doen en dis normaalweg ingesluit in hul fooie.

Die regisseur en vervaardiger van die fliek besit uiteindelik die filmregte. Dit beteken dat hulle die TV en loketregte kan verkoop, meestal op ʼn tantième basis.

En raai wie is die verloorders? Die ektras. Ekstras is daardie siele wat in die agtergrond in ʼn restaurant sit en eet, of terloops verbystap. Hulle word nie betaal nie – al dra ‘n aap ʼn goue ring...